Dit vat ’n oseaan

Daar kom tye in ’n mens se lewe wanneer jy besef jy moet tyd uitkoop.
Nie geld nie. Ook nie met geld nie.
Nie dinge nie.
Net tyd. Kosbare tyd.
Tyd om asem te haal.
Tyd om te dink.
Tyd om stil te word nadat die lewe lank hard geraas het.
Vir my beteken daardie tyd dikwels een ding:
die see.
Ek en CF het gaan afpak by die groot water vir ñ week.
So sit ek op die rotse. Net ek, my gedagtes en ñ stille geraas van binne en buite.
Daar is iets aan die see wat my altyd terugbring na myself.
Die ritme van golwe wat kom en gaan sonder om verskoning te maak of toestemming te vra.
Die wind wat sout en onthou-stories saambring.
Die gevoel dat die wêreld vir ’n rukkie groter is as my eie gedagtes.
Wanneer ek by die see sit, besef ek hoe lank ’n mens soms probeer sterk wees.
Hoe lank ons probeer aanhou sonder om werklik te rus.
Ons leef in ’n wêreld waar rus amper soos ’n luuksheid voel.
Asof jy dit moet verdien. Daarvoor moet kwalifiseer.
Asof jy eers alles moet klaarmaak voordat jy kan gaan sit.
Maar die waarheid is:
niemand kom ooit by die punt waar alles klaar is nie.
Daar sal altyd nog werk wees.
Nog verantwoordelikhede.
Nog dinge wat aandag vra.
Dis hoekom ek begin leer het om soms doelbewus tyd uit te koop.
Om weg te stap vir ’n paar dae.
Om die plaas, die skedules en die geraas agter te laat.
Nie om te ontsnap nie —
maar om weer te onthou wie ek is sonder alles wat ek dra.
Daar is ’n liedjie van The National wat al jare saam met my stap.
In Terrible Love is daar ’n reël wat altyd by my bly:
“It takes an ocean not to break.”
Toe ek dit die eerste keer hoor, het dit gevoel soos ’n waarheid wat ek lank reeds geweet het maar nie kon sê nie. Woorde vir beskryf was daar nie.
Dit vat ’n oseaan.
Nie ’n dam nie.
Nie ’n koppie water nie.
’n Oseaan.
Die lewe druk soms swaar.
Verlies.
Verantwoordelikheid.
Liefde wat ook seer kan maak.
Om nie te breek nie vra ruimte.
Diepte.
Iets groter as ons eie krag.
Miskien is dit hoekom daardie woorde nou op my vel staan…
’n klein tattoo wat my herinner dat selfs die sterkste mense ’n oseaan nodig het.
Vir my is die see daardie herinnering.
Wanneer ek langs die water sit, voel ek hoe dinge stadig begin sak.
Gedagtes wat minder dringend raak.
Sorge wat nie meer so hard skree nie.
Die see probeer nie alles oplos of skoonwas nie.
Maar dit leer jou iets anders:
dat nie alles opgelos hoef te word voordat jy kan rus nie.
Soms is rus net om daar te sit.
Om die horison te kyk.
Om die golwe toe te laat om die geraas binne jou bietjie stiller te maak.
Ons almal het ’n oseaan nodig.
Vir sommige mense is dit letterlik die see.
Vir ander ’n plek van gebed.
’n Stil stoep.
’n lang stap.
Iets wat groot genoeg is om te dra wat ons nie self kan nie.
Hier, tussen stof en stilte, leer ek stadig:
rus is nie iets wat gebeur wanneer die lewe ophou nie.
Rus is iets wat ons soms self moet gaan haal.
Selfs al beteken dit om vir ’n paar dae na die see te ry
en net weer te onthou
hoe groot die wêreld werklik is.
En hoe klein…
en hanteerbaar…
ons swaar soms word,
wanneer dit langs ’n oseaan lê.