About

Welkom by Tussen Stof en Stilte
My naam is Minette. Ek is ‘n opgeleide verpleegkundige, ‘n ma, ‘n vrou, en iemand wat die lewe van naby leer ken het – in vreugde en in verwoesting.
Ek is getroud met ‘n spesiale boer wat saam met my op skool was, en nee, dit is nie ‘n sprokie wat al op die skoolbanke neergepen was nie, ons verhaal het eers dekades later begin. Hierdie liefde is stiller, dieper en meer eerlik as wat ek ooit kon dink moontlik is. My sielsgenoot. Maar my pad het soveel ander padkaarte gebruik om hier op te eindig. Verlies, dood, egskeiding, genesing en aanvaarding.
Ons woon op ‘n plaas in Limpopo. Tussen diere, grond, uitdagings en genade. Hier leer ‘n mens om hard te werk, stil te dra en aan te hou, selfs as niemand kyk nie.
Ek is nommer 2 van 5 dogters wat ons ma vroeg verloor het aan kanker. My seun is op 28 oorlede en my dogter woon en studeer in Europa – ver weg, maar altyd naby my hart.
Hierdie blog is my stem – maar ook ons stem.
Vir vroue.
Vir families.
Vir mense wat liefhet, verloor, hoop en steeds opstaan.
Tussent Stof en Stilte is ‘n plek vir ware stories. Nie gepoleer nie. Net eg.